Die ondersteuning van plaaslike landbou begin by verhoudings, en dis presies wat GROW Fresh Produce met hul betrokkenheid by Vivo Boerebemarkingsdag 2025 bevestig. Deur vanjaar die satelliet-kroegtent te borg waar die Aartappel SA-vergadering gehou word, beklemtoon GROW hul verbintenis tot die produsentegemeenskap van Vivo. Hierdie borgskap skep nie net ’n waardevolle ontmoetingsruimte nie, maar dra ook by tot bemarking, kennisdeling en samewerking in die varsproduktemark.
“Ons is baie dankbaar vir GROW se ondersteuning vanjaar,” sê Bertie Otto, voorsitter van die Vivo Boerebemarkingsdag. “Hulle is nie net ’n belangrike rolspeler in die varsproduktemark nie, maar ook ’n lojale vennoot van produsente in ons streek. Deur hierdie borgskap help hulle om werklike gesprek en samewerking tussen boere en markspelers moontlik te maak.”
Volgens Deon van Zyl, woordvoerder vir GROW Fresh Produce, is hulle betrokkenheid by die ekspo ’n verlengstuk van hul kernwaardes. “GROW is geskoei op integriteit, kommunikasie en lojaliteit. Ons sien onsself as die bemarkingsarm van die produsente, nie net as agente nie, maar as verantwoordbare vennote,” verduidelik hy.
GROW is ’n groep maatskappye wat bemarkingsdienste lewer aan produsente in Vivo en die groter Suidelike Afrika. Hulle borgskap by die ekspo stel produsente in staat om hul agente van nader te leer ken, hul begrip van die mark omgewing te verdiep en nuwe verhoudings te bou, veral vir opkomende boere wat nog hul plek in die varsproduktewêreld probeer vestig.
“Ons is opgewonde om produsente tydens die Aartappel SA-vergadering te ontmoet,” sê Van Zyl. “Hoewel ons nie ’n stalletjie met produkte gaan hê nie, is ons daar om vrae te beantwoord en insette te gee oor bemarking, of dit nou aartappels, tamaties of enige ander varsproduk is.”
Bo en behalwe die sakegeleenthede, sien GROW die dag as ’n belangrike geleentheid vir die hele gemeenskap. “Ekspo’s soos dié bring mense bymekaar, boere, insetverskaffers, diensverskaffers en plaaslike besighede. Dit versterk die hele plaaslike ekonomie en gee ook vir die gemeenskap iets om na uit te sien,” sê Van Zyl.
Aan jong of opkomende boere het hy die volgende boodskap: “Maak seker jou spore is in jou lande. Bly nederig, werk hard, wees trots op jou produk en doen jou beplanning deeglik. Suid-Afrika het van die beste boere in die wêreld, word een van hulle.”
GROW sien uit daarna om vir die lang termyn deel te bly van boerdery in Limpopo en veral Vivo, en wil graag help bou aan ’n volhoubare toekoms vir plaaslike varsprodukte.
Die Vivo Boerebemarkingsdag 2025 vind plaas op 22 – 23 Augustus 2025, en beloof om groter en meer betekenisvol as ooit van tevore te wees!
R24 500
D blokke
R17 400
B blokke
R14 800
C blokke
R8 600
A blokke