Wie is ons?
Die Vivo Boerebemarkingsdag is een van Limpopo se grootste en gewildste landbou-ekspo’s waar boere, besighede en die gemeenskap jaarliks saamkom om die hart van die platteland te beleef.
Hierdie asemrowende landbouskou-naweek vind op 4 en 5 September 2026 te Vivo, Limpopo, plaas.
Wat jare gelede begin het as ’n plaaslike bemarkingsgeleentheid, het gegroei tot ’n gevestigde platform waar landbou, gemeenskap, netwerkgeleenthede en plattelandse gasvryheid bymekaarkom. Die fees dien ook as die hoofbron van inkomste vir CVO Skool Vivo en speel ’n belangrike rol in die groei en ontwikkeling van die gemeenskap.
Die Vivo Boerebemarkingsdag skep ’n unieke geleentheid waar besighede hul produkte en dienste op ’n praktiese en persoonlike manier aan boere van regoor Limpopo en Suid-Afrika kan bekendstel. Dit is ’n plek waar produsente kennis deel, nuwe tegnologie ontdek en oplossings vind vir die uitdagings van moderne landbou.
Maar die fees gaan oor meer as net landbou. Dit gaan oor mense. Dit gaan oor die egte plattelandse leefstyl waar verhoudings, geloof, harde werk en gemeenskap steeds sentraal staan. Van landboudemonstrasies en paneelgesprekke tot die MammaMall, kunstenaars en kuiergeleenthede, die Vivo Boerebemarkingsdag bied iets vir oud en jonk.
Die doel bly eenvoudig: om boere, besighede en gemeenskappe nader aan mekaar te bring en saam te bou aan ’n sterker toekoms vir die platteland.
“Ons wil hê mense moet weer trots wees op die platteland. Die Vivo Boerebemarkingsdag gaan oor meer as net ’n fees, dit gaan oor die mense, die gemeenskap en die toekoms wat ons saam bou. Ons glo die platteland het steeds ’n groot rol om in Suid-Afrika se toekoms te speel.“
- Marthinus Roets, voorsitter van die Vivo Boerebemarkingsdag-komitee
Kom besoek die Vivo Boerebemarkingsdag op 4 en 5 September 2026.
Jy sal arriveer as ‘n besoeker, maar vertrek as ‘n vriend en lid van ons hartlike boerefamilie.